Kuberklets Met… Stefan Jansen


“Ek luister na Foo Fighters en Elton John, so dis bietjie van alles... Paul Simon is my hero! Bob Dylan is ‘n genie! Leonard Cohen is baas! Joshua Kadison sing die beste. Foy Vance is die “coolste”. Freddie Mercury was net onregverdig!”
Wednesday, November 18, 2020 - 10:00

Die Pretorianer, Stefan Jansen is ’n Suid-Afrikaanse sanger, musikant en liedjieskrywer. Hy is nie nuut in die musiekbedryf nie, maar het eers onlangs sy eerste solo-enkelsnit, Verdienste en Genade, uitgereik.  Jy kan maar gerus jou ore spits, want hierdie kunstenaar se talent is nie iets wat jy wil mis nie.  Die liedjie neem reeds radioglolwe landswyd oor en dit spog met ‘n verfrissende kontemporêre klank en opregte hartslirieke waarby luisteraars aanklank vind.

Ons het met Stefan Jansen gaan gesels oor die liedjie en meer oor hom as persoon gaan uitvind.

 

Jou nuwe enkelsnit, Verdienste en Genade is ongelooflik mooi!  Baie geluk!

Lekker! Baie dankie vir die kompliment, ek is bly die lied resoneer sover met die mense wat dit gehoor het! Dis great!

Waaroor gaan dit en wat is die genre?

Dis ‘n “Adult Contemporary” lied. Dit gaan oor my meisie en die pad wat ek en sy sover gestap het. Ons ken mekaar al bietjie meer as 5 jaar, en daar was ‘n stadium wat ek nie gesien het watse verskriklike waardevolle bydrae sy in my lewe gemaak het nie. Dit het gelei tot ‘n tydperk in ons verhouding (op daardie stadium nog net as vriende) wat dinge stil geraak het tussen ons. Ek het besef dat ek haar eerder in my lewe wou hê, al sou dit beteken dat ek aan haar moes erken dat ek haar lief het, as wat ek haar verloor as ‘n vriendin en maat. Ek het met haar oop kaarte gespeel en sy het my vergewe; nie uit verdienste nie maar alleen uit genade, jy weet? Dis toe dat ek die song begin skryf het. Ek moet ook noem dat die lied eers in Engels geskryf was. Die naam was “Song of Silence” en dit het gegaan oor my skuldgevoelens teenoor haar agv die manier wat ek haar gevoelens seergemaak het. Toe ek besluit om die lied op te neem, nadat ons die dromme, baskitaar en kitare klaar opgeneem het en ek begin sing met my tipe van Afrikaanse /  Amerikaanse / Engelse aksent, het Robin Walsh vir my gevra om vir hom te verduidelik hoekom ek, as Afrikaner, in die eerste plek nie Afrikaans sing nie. Na ‘n lang insiggewende gesprek het ons besluit om die lied te vertaal, OORNAG! Die volgende oggend was alles klaar geskryf en opgeneem, en dis wat jy nou hoor. Dit opsigself het nie gebeur uit verdienste nie, maar alleen uit genade! Ek was definitief nie alleen op daardie paadjie nie!

Wat beteken dit vir jou en hoekom het jy dit gekies?

Ek dink dis die beste lied wat ek al geskryf het. Ook die feit dat dit my eerste Afrikaanse lied is en amper ‘n Engelse lied was en ek dit onder baie druk, baie vinnig moes klaar skryf.  Ek het GEEN tyd gehad om stories uit te dink nie, so wat jy hoor was my naakte waarheid. Ek wil dit verkondig, want ek dink mense speel te veel speletjies en leef nie in die waarheid nie.

Hoe dink ontvang die publiek dit?

Ek dink mense resoneer et dit.  Almal was al op ‘n plek waar hul iets gekry het, of iets verlang het, uit blote genade. Almal weet hoe liefde voel en almal het soms vergifnis nodig.

Hoekom moet mense die lied luister?

Die potensiële mark is groot vir die lied. Mense moet dit luister want mense moet hoor dat hierdie tipe goed elke dag gebeur, dat mense vergifnis verdien, dat dit baie goed kan uitdraai om eerlik te wees al is dit moeilik, en dat liefde belangriker is as trots. Ek hoop mense deel my gevoelens van nederigheid en oorwinning.

Wat was sover die hoogtepunt van jou loopbaan?

Ek het in 2018 saam met die Parlotones in Europa getoer en toe vir ‘n twee-weke deel van hulle 20ste Herdenking Toer in Engeland en Skotland. Dit was “INSANE!!”

Die hoeveelste enkelsnit is hierdie en hoe is die voriges ontvang?

Hierdie is my debuut. Dis hoekom ek so opgewonde is! Ek’t nog nooit iets vrygestel nie!

Vertel ons meer van jou.  Wie is Stefan Jansen en waar kom jou voorliefde vir musiek vandaan? 

Ek kom van Bronkhorstspruit af. Gepraat van “klein begin”! Daar was ‘n verbasende lewende musiek kultuur in die dorpie toe ek op skool was daar. Ek het in ‘n “Punk Band” gespeel in Gr 10 wat, ironies genoeg, opgebreek het omdat niemand van ons kon sing nie! Dit was net kitare en geraas! Toe ek my Baskitaar moes verkoop, het ek hom ingeruil op ‘n akoestiese kitaar om op ons plaas in die bosveld om die vuur te kan speel. Dis waar ek geleer het. My pa het my geleer kitaar speel. Hy is nou nog ‘n groot inspirasie vir my. Ek het aanvanklik net Laurika Rauch en Koos Du Plessis (ens.) liedjies gesing om die vuur, maar toe ek op Universiteit kom, en nadat my deeltydse loopbaan as kelner gefaal het, moes ek begin optree in kroeë en restaurante om sakgeld te maak. Ek het ‘n LLB graad gekry in 2011, en alhoewel ek dit toe gesien het as ‘n mors van my tyd, het dit my eintlik agter die skerms leer lees en skryf. Dit het my ook leer krities dink en redeneer, en dit het my baie van myself geleer. Dit het ook vir my een of twee baie lekker kitare gekoop! Ek het in 2019 besluit dat ek my kanse moet gryp om musiek voltyds na te streef nadat ek (uiteindelik) besef het dat ek altyd my loopbaan en my musiek halfhartig sal hanteer as ek nie aan een van die twee ten volle “commit” nie. Dit was ‘n “great” besluit! Ek speel nogsteeds in die Gobabis Band (dis ‘n cover band wat op hierdie stadium die debiet orders blus) saam met ‘n pel van my. Ons het omtrent al die hele land gesien agv daai band. Ek werk by Guitar Gallery as ‘n konsultant. Akoestiese kitare is ‘n groot passie van my, en ek beplan om binnekort kitare te begin bou ook. As ek my sin kan kry sal ek by Casimi Guitars (Muizenberg, SA) wil gaan leer. Daai twee manne verteenwoordig ons land op ‘n “next level”! Op die oomblik bly en in Pretoria waar al my vriende is. Ek’s lief vir hierdie dorp! Toe ek in Februarie 2020 Switzerland toe was om my musiek te gaan bemark, het ek besef en gesien hoe baie die wêreld van Afrikaners hou, en ek het besef ek kan ‘n loopbaan maak uit Afrikaanse musiek, al is dit internasionaal.

Hoeveel jaar is jy nou al doenig in die musiekbedryf?

16 jaar. Sedert ek 16 was in daai Punk Band.

Wie in die musiekbedryf inspireer jou en saam met wie sal jy nog graag wil werk?

Laurika Rauch, Hunter Kennedy, Valiant Swart, Danie du Toit (Spoegwolf), Jan Blohm.

Ek het al geopen vir Valiant en Jan Blohm. In teendeel, ek het al saam Jan opgetree.

Maar as ek kon werk saam met Laurika en Hunter sou ek bars van opwinding!

Wat inspireer jou om sekere musiek te skryf en te sing?

Waarheid. Dis moeilik want mens kan nie waarheid uitdink nie, maar as jou oë oop is kan jy dit darem sien rondom jou gebeur. Ek wens ek kon soos Bob Dylan in prentjies skryf, maar miskien is dit vir my beskore eendag. Vir nou sing ek oor die wêreld hoe ek dit sien.

As jy enige ander beroep moes kies, wat sou dit wees en hoekom?

Ek sou akoestiese kitare bou. Ek is mal daaroor om met my hande te werk. Die reuk van hout saagsels is vir my soos koffie in die oggend! Bome, woude en hout fassineer my! Ek is ‘n gekwalifiseerde kitaar tegnikus ook, so ek is halfpad daar!

Van watter tipe musiek hou jy en watter kunstenaars se werk het sover ’n invloed gehad op jou eie musiekstyl?

Ek luister amper enige akoestiese kitaar musiek. Selfs instrumentele songs. As ek my gunsteling musiek moet opsom sou ek sê dit sou organies, eg en eerlik wees. Liriek-gedrewe musiek is vir my belangrik, maar ek vang myself baie uit net na die musiek luister, en anders om! Ek luister ook Foo Fighters en Elton John, so dis bietjie van alles... Paul Simon is my hero! Bob Dylan is ‘n genie! Leonard Cohen is baas! Joshua Kadison sing die beste. Foy Vance is die “coolste”. Freddie Mercury was net onregverdig!

Som jou stem en styl in een sin op?

Dis my absolute waarheid en my absolute beste.

Wat is jou gunstelingaanhaling oor musiek?

“To play a wrong note is insignificant; to play without passion is inexcusable.” Ludwig van Beethoven

Vertel ons een ding wat niemand van jou weet nie?

Ek hanteer nie kritiek baie goed nie. Ek werk daaraan en leer daaruit, maar dit maak maar altyd bietjie seer aan die begin.

Wat het die musiekbedryf jou die afgelope paar jaar geleer?

Die ou wat by sy huis sit en oefen terwyl jy sit en braai, gaan jou eendag verbysteek. Dis baie harde werk! Glad nie so romanties soos ek gehoop het nie!

Wat was die grootste uitdagings wat jy moes oorkom?

My eerste drie mislukte pogings om my eie liedjies op te neem. In retrospek was ek net nog nie gereed nie, maar op daardie stadium was dit bitter erg. 

 

VOLG STEFAN JANSEN HIER OP SOSIALE MEDIA:
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/StefanJansenMusic/  
Instagram: @stefan.jansen.music