Kuberklets Met… Jan Rhaap


“Toe ek begin sing, het jy baie gehoor mense sê, deesdae wil elke tweede mens sing, elke Jan rap en sy maat wil musiek maak. Toe besluit ek, maar dan sal ek verkies om "Jan rap" te wees, en het net so bietjie met die spelling gespeel, toe word ek Jan Rhaap.”
Friday, October 16, 2020 - 08:55

Jan Rhaap met sy rasperstem, is 'n talentvolle ses-en-dertigjarige kunstenaar en kom vanuit ’n musikale gesin.   Hy  het nog altyd ’n diep waardering gehad vir betekenisvolle musiek. Op die ouderdom van twintig het hy homself leer kitaarspeel, maar hy het eers in die landboubedryf gewerk voordat hy op nege-en-twintig besluit het om voltyds te begin musiek maak.

Nadat hy vir twee jaar saam met Adam Tas getoer en vir hom voorvertonings gedoen het, het sy solo-loopbaan behoorlik vlam gevat en het hy drie albums en verskeie suksesvolle enkelsnitte uitgereik.

Oor die jare, het hy verskeie loopbaanhoogtepunte gehad, waaronder Ghoema-benoemings vir “Nuweling van die Jaar” (2015) en “Beste Alternatiewe Album van die Jaar” (2017) en in 2017 het hy ook die voorreg gehad om saam met Ricus Nel, Refentse, Appél en ander kunstenaars die gewilde liedjie Hardekole te sing tydens hierdie gesogte toekenningsgeleentheid. Net voor grendeltyd, het die musikant ook saam met ander bekendes op die 2020-Bokboot gekuier.

Sy enkelsnit en musiekvideo MAAK JOU MAAK(e) is uitstekend ontvang en die liedjie pryk op die trefferparades van radiostasies landswyd, terwyl die musiekvideo reeds oor die 38 000 kyke op YouTube gekry het.  Sy volgende enkelsnit word in November 2020 uitgereik.

Ons het by Jan Rhaap gaan inloer om so bietjie meer oor MAAK JOU MAAK(e) uit te vind en die man homself:

Vertel ons meer oor jou enkelsnit MAAK JOU MAAK(e)
Ek het weereens so bietjie gespeel met die spelling daarvan. Daar bestaan nie eintlik 'n woord soos "make" nie, wat eintlik verwys na die meervoud van "maak". 
Ek het die "(e)" ingesit, want dis gewoonlik hoe 'n meervoud van 'n woord aangedui word in 'n woordeboek.

Ek het die liedjie geskryf saam met Loki Rothman. Dit is 'n pop-rock liedjie wat basies gaan oor 'n onbeplande kuier saam met my neef en 'n vriend. Ek het die idee gekry vir die liedjie 'n paar jaar terug toe my neef en vriende van hom hier by my op die plaas kom jag het. My neef (Bulletjie) en 'n vriend van hom (Jukkie/Jurgens) het die hele naweek vir mekaar gesê, "maak jou maak(e)". Dit is maar 'n sê-ding hier by ons in die Noord Kaap wat jy vir iemand sal sê as jy hom byboorbeeld uitdaag. Dit beteken "wys my wat in jou steek" of "wys my wat het jy".

Ek het hierdie liedjie gekies want ek voel ek wil hiermee vir die mense wys wat in my of my musiek steek. Ek "maak my maak(e)" met hierdie liedjie. Dis my 11de enkelsnit wat ek vrystel en hierdie sal ook dan my 4de album wees van my loopbaan. 

Ek dink met die moeilike tye waarin ons nou leef, sal baie mense nou graag 'n onbeplande kuier saam met vriende waardeer. Ons as Suid Afrikaners is lief vir kuier en ek is seker baie mense sal kan assosieer met die storie wat ek vertel in die liedjie.

Jy het ook 'n musiekvideo uit vir MAAK JOU MAAK(e) - Vertel ons meer oor die konsep en idee?
Die video gaan oor my en 3 vriende  wat na 'n lang tyd weer by ons "bandroom"/bendehuis instap en saam kuier en musiek maak. Ek wen heeltyd al die speletjies wat ons speel, of dit nou kaarte is en of dit veerpyltjies is, ek wen heeltyd. Ek "maak my maak(e)".
Die video is geskiet op Dozi se plaas net buite Hartbeespoort en wat hierdie video so uniek en spesiaal maak, is die manier waarop ons dit geskiet het. 
Ek praat heeltyd met die kyker terwyl ek ook self deel is van die storie wat afspeel. Ek vertel die storie aan die kyker terwyl ek self deel is daarvan.

Wie is Jan Rhaap en waar kom jou naam vandaan?
My naam is Werner Burger maar ek tree op as Jan Rhaap. My verhoognaam kom van die gesegde, "elke Jan rap en sy maat". 
Toe ek begin sing, het jy baie gehoor mense sê, "deesdae wil elke tweede mens sing, elke Jan rap en sy maat wil musiek maak." 
Toe besluit ek, maar dan sal ek verkies om "Jan rap" te wees, en het net so bietjie met die spelling gespeel. 

Waar het jy groot geword?
Ek is gebore in Pretoria en was daar op skool en ook by Tukkies, BSc (Agric) Veekunde, studeer. Ek bly tans in die Noord Kaap waar ek boer saam met my familie net buite Niekerkshoop. Dis 'n klein dorpie in die Griekwaland. Ek is getroud met die mooiste vrou ooit, Nadia, en ons het een seuntjie, Chris-John. Hy is nou 2. My ouers is albei baie musikaal en ons het groot geword met baie musiek in die huis.

Wat is jou gunsteling musiek?
Ek is baie lief vir musiek wat lirieke het wat iets beteken. Ek het as kind geluister wat my ouers geluister het, Kris Kristofferson, Leonard Cohen, Neil Diamond, Bruce Sprinsteen ens. Daar het my liefde begin vir musiek met goeie lirieke. Ek is mal oor folk en country musiek.

Wie inspireer jou?
Plaaslike kunstenaars wat my inspireer is Steve Hofmeyr, Adam Tas, Jan Blohm, weereens eintlik enige kunstenaar wat goeie en sterk lirieke het. 
Stories wat vertel word. Ek sal baie graag nog saam met Steve Hofmeyr wil werk.

Waaroor skryf jy graag?
Ek skryf graag oor dinge wat ek in my eie lewe beleef en ervaar. My musiek is 'n direkte weerspieëling van my lewe en myself as mens. Ek sal my musiek beskryf as eenvoudig, eerlik en opreg en met baie passie. My gunsteling gesegde wat ek baie vir myself sê is, "keep on keeping on". As ek enige ander beroep moet kies behalwe sing ek skryf, sal dit sonder twyfel boer wees. 

Wat het jy as kunstenaar geleer?
Musiek het my definitief geleer om geduldig te wees en het ook my geloof baie sterker gemaak. As dit nie vir die Here was nie, het ek lankal nie meer musiek gemaak nie. Ek kan nie eers meer tel hoeveel keer die Here my gedra het, finansieel en emosioneel, deur maande en tye wat ek nie gedink het moontlik is nie. Wel dit is nie moontlik nie, nie vir mense nie, maar vir Hom is dit maklik!!

Wat weet niemand van jou nie?
Iets wat mense dalk nie weet van my nie, is dat ek provinsiale kleure het vir "Action Cricket". Dit was nou wel toe ek heelwat jonger was. Hehe.

Watter uitdagings het jy as kunstenaar ervaar?
Ek dink die afgelope 5 maande is by verre die uitdagendste tyd van my loopbaan. Om nie te kan optree en 'n inkomste verdien nie, vat aan 'n mens. Maar weereens dra die Here my nog elke dag.

Wat is volgende vir Jan Rhaap?
Ek is tans besig met my 4de album se skryf en opname. Ek is baie opgewonde oor die album en sien uit om die volgende hoofstuk van my lewe met mense te deel.

Het jy al enige benoemings of toekennings ontvang?
Ek was in 2015 by die Ghoemas benoem vir "Nuweling van die jaar" en in 2017 vir "Beste alternatiewe album". Ek het 'n liedjie saam met Juan Boucher geskryf, "Huisie in die bos", wat nou al so 2.4 miljoen kyke het op youtube. Nog 'n liedjie van my, "Ramskilpad", staan nou op amper 300 000 kyke en was ook 'n nommer een op verskeie treffersparades.

Waar kan mense met jou gesels op sosiale media?
Ek is op Facebook, Instagram en Youtube as Jan Rhaap
Dis reeds oor daai rede dat ek die spelling van "Jan Rhaap" so gemaak het. As jy my naam soek op Facebook, Google, Instagram of YouTube, is ek die enigste resultaat wat jy kry.
 

VOLG JAN RHAAP HIER OP SOSIALE MEDIA:

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook:
https://www.facebook.com/janrhaap/
Instagram: @janrhaap
Twitter: @janrhaap